Internasionaal-bekende Nederlandse orrelis Martin Mans gee op 22 Februarie om 19:00 ‘n orreluitvoering in die NG Kerk, Hermanus. Veral bekend vir sy improvisasies van bekende klassieke werke, behoort geen person met ‘n passie vir orrelmusiek Mans se virtuose orrelspel in lewende lywe mis te loop nie. Van sy opnames word gereeld Sondae op RSG uitgesaai, en daar is slegs een uitvoering in die hele Overberg.
Improvasies sluit in die meesleurende Plea for Africa. Land of Hope and Glory, Amazing Grace en die immergroene Sarie Marais word ook met sy verbeeldingryke musiek-palet ingekleur. Klassieke werke sluit in ‘Nun danket alle Gott’ van Bach en ‘Toccata’ van Leclerc.
Mans bevorder graag plaaslike kunstenaars en hierdie jaar sal Overstrand se Cantare sanggroep onder leiding van Louna Stoffberg ‘n paar items lewer. Louna en Bea Whittaker sal ook ‘n duet sing met Martin Mans agter die orrel.
Martin Mans het op die ouderdom van sewe jaar orrelles begin neem en is op 13 aangestel as die kerkorrelis in sy tuisdorp. Hy is sedert 1995 die orrelis van die grootste kerk in Rotterdam. Sy katedraalkonserte is wêreldwyd bekend en word jaarliks deur duisende mense bygewoon. Mans is ook passievol oor koraalmusiek en gevolglik die koorleier van twee kore in Nederland en ‘n Kanadeese mannekoor, Libertas, in Ontario.
Kaartjies kos R100/volwassene en R20 vir kinders jonger as 12. Dit kan aanlyn via Quicket aangekoop word, of by die NG Kerkkantoor in Kerkstraat Hermanus; (028) 312-3904.
Navrae: Bea Whittaker (028) 341-0430 / 083-293-5512
Powered by iCagenda